05/04/2021
Dehlia Frauendorf, baie dankie dat jy my verwys het nav hierdie plasing. Ek waardeer dit.
Maar ek wil graag 'n paar gedagtes met ene Me. Leonie van Pletzen - die oorspronklike plaser - deel ; ek weet nie of sy die boodskap sal sien nie ; miskien...
Liewe Me. van Pletzen,
Baie geluk met jou nuwe reeks produkte. Ek is egter ontsteld dat jy ander mense blatant wil misbruik om jou produkte te bemark. Veral dat jy sogenaamde 'up and coming' fotograwe teiken ; juis die mense wat waarskynlik nuut in besigheid is en wat jou besigheid baie nodig het. Ek gun jou die reg om geld te maak. Hoekom gun jy nie dieselfde vir fotograwe nie?
Ek wonder hoeveel van jou nuwe reeks produkte jy verniet gaan weggee ter wille van 'exposure'. Terloops, 'n mooi woord vir 'exposure' is 'blootstelling'.
Ek wonder hoeveel van die verkopers van die sakkies, of boksies, of mooi papier waarin jy jou nuwe reeks produkte gaan verkoop het hulle produkte gratis vir jou gegee aangesien jy 'exposure' in ruil daarvoor vir hulle gaan gee.
Weet jy dat 'n fotograaf ook 'n professionele diens, 'n professionele produk lewer ? 'n Diens en produk wat geld werd is ?
Weet jy van die babatjie wat gehuil het toe sy Pappa by die huis kom en sê dat hy vandag die hele dag gewerk het, en baie 'exposure' gekry het. Toemaar, moenie sleg voel nie, die baba het nie gehuil oor die 'exposure' nie ; dit was maar net trane van hongerpyne.
Weet jy van die fotograaf wat onlangs sy huis en sy kar verloor het omdat hy nie (betaalde) werk kon kry nie agv die omstandighede waarin ons tans leef ? Ja, almal kry swaar, nie net fotograwe nie. Maar hoekom misbruik jy en andere die 'goedheid' van fotograwe?
Weet jy hoe het die kassier by Checkers gelag toe die koper sê dat sy nie vir die kruideniersware wil betaal nie, maar sy sal baie 'exposure' vir Checkers sal gee vir die produkte ?
Weet jy van die ou wat by Pick 'n Pay uitgejaag is toe hy met 'exposure' vir sy kind se nuwe skooltas wou 'betaal'?
Weet jy wat die toerusting kos wat 'n professionele fotograaf wil gebruik om professionele fotos vir jou van jou belangrike 'nuwe reeks produkte' te neem ? Kom ons sê maar die kamera kos R 35,000, die lens R 12,500, die twee ligte R 7,000 elk, die twee sambrele R 500 elk. Daar is nog toerusting nodig, maar ek d**k jy kry die idee. Dan praat ons nog nie eers van die rekenaar en sagteware - en tyd - wat nodig is om die fotos perfek te verwerk vir jou nie. Jy sal miskien opmerk dat nie een van die items met 'exposure' gekoop kan word nie. Dan nog versekering vir die toerusting ook.
Dis nogal snaaks, maar fotograwe het ook kos nodig. En 'n dak oor hulle koppe. Hulle dra klere ook, al is dit nou nie noodwendig boetiekklere nie. En 'n voertuig om by jou te kom om fotos te neem. Ek het nog nooit 'n fotograaf ontmoet wat daarvoor met goeie 'exposure' kon betaal nie.
Ek d**k regtig dat jy vermetel is om so 'n versoek te plaas. Die tragiese is dat daar desperate fotograwe sal wees - mense wat regtig in die moeilikheid is - wat jou sal toelaat om hulle so te misbruik. Dis regtig 'n skande.
En dan diskrimineer jy ook nog deur spesifiek na 'n 'haar' te verwys.
Sies vir jou ! Ek hoop dat jou plasing uit onkunde is, en nie doelbewus nie.
Ek wens jou alle sterkte en sukses toe met jou 'nuwe reeks' produkte.
Beste groete,
Ook 'n fotograaf.