06/04/2026
🌸Kosmos oggend….🌸
Dou voordag staan ek in n veld, kosmos wat heuphoogte wyd voor my uit strek….
Ek asem die stilte van die veld diep in…. Deur na my longe, deur na my denke, deur my menswees…..
Goudgeel sonstraalvingers dartel skaam oor n miskombers wat verbete nog probeer vasklou aan die aarde. Skitterstrale breek effens later oor die kleurlose, mistroostige horison en tel stuk vir stuk die miskombers met blink vingers op.
Die veld knoop stadig sy baadjie oop en omskep n vaal bladsy in sagte pastelkleure en omvou die dag in n kleurpalet met die saamsmelt skakerings van warm oranjes, gele en pienk appelkoos…
Pronkend in die sonstrale, dartel die nederige kosmoslyfies in n koel oggendbriesie. Hul sysagte blomblare beklee met skitterblink doudruppel juwele. Gesiggies dankbaar, in glorie gedraai na bo.
Die oggendson bekruip en verwarm my vel, die reuk van die klam aarde-geur kielie my neus.
Die doodse stilte word verplaas deur n kiewiet se skelroep en die vrolike getjirp van n swaeltjiekoor.
Kan ek nie maar hierdie rustigheid bottel en huis toe vat nie?
Wasem asems stuur kronkellende wit krulle stadig na bo… Waar hulle verdwyn in die koel oggendlug - soos die spreekwoordelike mis voor die son.
Die vroegoggenddou op die grashalms klou aan my ledemate. My hande yskoud, my voete, my bene waternat… Maar tog so verfrissend.
n Versteekte draad pootjie my, bring my na my kniee in die lang gras. My eerste gedagte: Het ek grasieus genoeg neer gefoeter…..?
Ja, hierdie klam veld vertel die storie van n somer wat op pad uit is…. Winter is in aantog met sy ysige, vaal ou jas…
Gee my die vlakte ruim en wyd
Gee my die veld se oneindigheid…. A. D. Keet
Ek….
Diereliefhebber…
Natuurkind…..
Landskapfotografie… Waar ek my menswees kan gaan vind in die vlaktes.